Ons is 'n geloofsgemeenskap wat elke Sondagoggend bymekaar kom om God te ontmoet in die erediens soos gelei deur dr Deon du Toit of ds Juanita du Preez. Ons verwelkom graag ander om deel van ons gemeente te word.
Die verkondiging van die Woord en erediensbelewing bly ons eerste prioriteit. Ons gemeente se bedieningsidentiteit is nou Gemeente Pierneef GLO. Die G, staan vir God en Geloof, die L vir Liefde en Lewe, en die O vir Omgee en Omgewing. GLO is 'n woord wat uit drie letters bestaan waarvan elke letter ewe belangrik is. Net soos wat al drie letters nodig is om die woord GLO op te maak, net so is moet al drie betekenisse van die G, L en O teenwoordig wees om ons gemeente se roeping tot sy/haar reg te laat kom. Daar is heelwat ander geloofsbegrippe wat onder die drie letters van GLO resorteer en elkeen kan ander betekenis in GLO vind - vir ons staan dit tans vir God se Liefde in ons Omgewing.
Gemeente
Pierneef het in 1968 van Gemeente Villieria afgestig. Die
hoeksteenlegging was op 24 Mei 1975, en is waargeneem deur ds Thys
Naude, wat vanaf 1968 – 1977 die leraar was. Vanaf 1977 – 2000
was ds Wynand de Beer die leraar, en vanaf 2000 tot 2022 het ds
Petri de Kock die gemeente bedien. Na ds Petri de Kock se aftrede het die gemeente twee deeltydse predikante aan diens. Ds Juanita du Preez het reeds in 2013 by
ons aangesluit en dr Deon du Toit het op 1 Januarie 2023 diens aanvaar.
Deur
die jare was ons bevoorreg deurdat vele ander predikante van ons kerk
in ons gemeente woonagtig was, en kon ons gereeld uit hulle wyshede
put. Prof Bart Oberholzer was vir 36 jaar woonagtig in die gemeente.
Die ander predikante was prof Piet Geyser, prof Wouter van Wyk, en ds
Francois Labuschagne.
Die
dames van die gemeente is baie aktief en vergader een maal per maand waar verskeie interessante
aktiwiteite deel van die jaarprogram uitmaak. Hulle is verder
baie betrokke by Ons Tuis, Doulos en die Ondersteuningsraad (RATA).
Op
die perseel is 'n besonderse Muur van Herinnering met 370 nisse wat
in 2007 in gebruik geneem is. Dit bied 'n veilige omgewing vir die
naasbestaandes om te besoek.
Vanaf
die begin van 2013 is daar 'n Kleuterskool vir die voorskoolse
kinders op die perseel. Dit gebruik die kategeselokale, wat ook 'n
inkomste aan die gemeente verskaf.
Die
tuine op die perseel is pragtig, en onder die wakende oog van die
koster, prof Guillaume Theron, kan ons menigmaal 'n verskeidenheid
van blomme waardeer.
'God
hou self Sy kerk in stand, en so woon en werk die gemeente rustig
voort.